Forum Navigation

Moet ek regtig die regering gehoorsaam as hulle sê ons moet nie kerk toe gaan nie?

Quote

In hierdie tyd van die pandemie het die staat verskeie kere vir ons gesê ons moet nie kerk toe gaan nie. Waarom moet ons vir die staat luister, as die Here vir ons die opdrag gee om kerk toe te kom?

Quote

Die staat se gesag kom van God af.

Romeine 13: 1-2 Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.

Die argument is egter nog meer kompleks as net blote gehoorsaamheid aan die staat. Ons eerste een hoogste prioriteit is om gehoorsaam te wees aan God. En dit kan gebeur dat hierdie twee pligte, om gehoorsaam te wees aan God en om gehoorsaam te wees aan die staat, met mekaar bots. Wanneer God ons die opdrag gee om iets te doen wat die staat verbied, of as die staat 'n opdrag gee om iets te doen wat God verbied. Dit is waar ons gronde vir burgerlike ongehoorsaamheid vind. Wanneer die gelowige met opset die regering verontagsaam, omdat die opdrag van die staat in stryd is met die opdrag van God.

Ons het natuurlik verskeie voorbeelde daarvan in die Bybel, soos Daniël en sy vriende wat nie voor die beeld buig nie. Daniël wat voortgaan om in sy binnekamer te gaan bid, tenspyte van die wet dat die landsburgers slegs die koning mag aanbid.

Petrus en die ander apostels antwoord die Joodse raad met:

“’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!"

Dit was nadat die Joodse raad hulle verbied het om die evangelie te verkondig. Hulle het ook verder gesê

18Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. 19Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. 20Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

In 2020 en 2021 was die staat se opdrag nie 'n verbod op die verkondiging van die evangelie nie. Dit was nie 'n vervolging van Christenskap of 'n verbod op die uitlewing van die Christelike geloof nie. Die opdrag was een wat fisiese samekomste verbied. Ons het tydelik van fisiese na virtuele samekomste geskuif.

Die saak word verder gekompliseer, deur die feit dat drie van die tiengebooie in die beredenering van die saak betrek word. Die 4e (om die Sabbatdag te heilig) die 5e (om jou moeder en vader te eer - gesag wat oor jou aangestel is te gehoorsaam) en die 6e gebod (om jou eie en jou naaste se lewens te beskerm). Die vierde gebod roep ons op om die rusdag so deur te bring, dat ons dit heilig - dit is om die dag af te sonder tot God se eer en in Hom te rus. Dit wil voorkom asof die opdrag van die staat die 4e gebod kniehalter. Die 5e gebod roep ons op om die gesag strukture te eer en te gehoorsaam. As ons nie die opdrag van die staat gehoorsaam nie, maak ons onsself skuldig hieraan. Die 6e gebod is nie net 'n verbod op die neem van 'n lewe nie, maar ook die opdrag om lewe te beskerm. Sou ons voortgaan met byeenkomste en iemand sou siekword en sterf, maak ons onsself skuldig hieraan in die lig van die 5e gebod en in die lig daarvan dat ons ook nie dan ons eie of ons naaste se lewens beskerm het nie.

Wanneer daar so 'n botsing van pligte is, word die beredenering van die saak verder bemoeilik.

Die uiteinde van ons kerkraad se beredenering van die saak was dit:

Omdat die opdrag van die staat nie 'n vervolging van Christus, die evangelie of die Christen is nie, het ons nie rede tot burgerlike ongehoorsaamheid nie. In die lig daarvan dat ons steeds op 'n virtuele wyse kon vergader, het ons nie gesien hoedat die vierde gebod in gedrang kom, behalwe vir die feit dat dit nie fisies kan wees nie. Hiermee saam is die opdrag van tydelike aard. Dus het ons dit in die lig van die noodtoestand waarin die wêreld verkeer het, gesien as 'n tydelike reëling om die staat by te staan in sy poging om 'n pandemie te beveg. Dit is natuurlik waar die 5e gebod inkom en deur gehoor te gee aan die opdrag van die staat, maak ons onsself nie skuldig aan die oortreding van die 5e gebod nie. Die laaste saak wat tersprake kom is die 6e gebod. Dit is waarom ons seker maak dat almal wat die kerk besoek, kennis dra daarvan dat ons sosiale afstand maatreëls handhaaf en seker maak dat ons mekaar se lewens beskerm deur mekaar se gesondheid in ag te neem.

Barbara has reacted to this post.
Barbara

Preke

Word geïnspireer deur Bybelse lering van Ds. Dirk Kotzee
Skakel in elke Sondag oggend om 09:00

Besoek ons in Pretoria-Alkantrant of skakel in aanlyn

GK Pretoria-Alkantrant